Verken die McGregor-vallei rustig en proe-proe

Die McGregor-vallei soos gesien vanaf Wonderfontein se herehuis, met die Langeberge in die agtergrond.

“Ons moet ‘n slag by McGregor gaan kuier!” Dit was vroulief se woorde die heel eerste keer toe ons Greyton, see se kant die berg, besoek het. Ons het amper tydens daardie besoek die voetslaanpad na McGregor aangepak, maar dit gelos omdat ons nie seker was hoe ver en hoe taai dit was nie. Maar ek het belowe dat ons nog eendag daar ‘n draai sal maak, en belofte maak skuld!

Ons probeer minstens een keer per maand ‘n wegbreeknaweek inpas, altyd by ‘n ander plek, asook ‘n besoek aan ‘n area iewers in die Kaap se wynlande, en toe November aanbreek en ek het nog nie ‘n naweek beplan nie, toe dag ek so by my selwers: “Maar dan’s dit mos tyd vir McGregor”, en ek slaan sommer twee vlieë met een klap disnis want McGregor is mos deel van die Robertson-wynvallei en dan kan ek mos sommer ook ‘n wynreisartikel doen. So gesê en gedink, so gemaak!

Ons metaalmetgesel vir die besoek aan die McGregor-vallei was ‘n stasiewa wat al die reëls oortree, Honda se lenige en elegante Accord Tourer 2.2i-DTEC Executive (lees indrukke hieronder). En voor ek vergeet, behalwe vir McGregor Wines val al die wynmakers in hierdie vallei in die garagiste/boetiek-kategorie en is dit noodsaaklik om vooraf te bel.

Terloops, daar’s nege wynmakers in hierdie vallei waar die Klein Karoo en die Boland hand aan hand stap. As jy so na die koppies en hul Karoo-agtige plantegroei kyk, verwag jy enige tyd om ‘n skaap of volstruis te sien, maar laat sak jou oë net so effens en die lowergroen vallei slaan jou asem weg! En die majestieuse Langeberge hou ‘n ogie oor als.

In Robertson, net verby die stasie as jy van Worcester se kant af kom, vat die pad jou regs oor die spoorlyn en in die Mcgregor-vallei af. Ons eerste besoek was skaars ‘n katspoeg buite Robertson, naamlik by Wonderfontein (deel van Langeberg Winery) waar die Marais-familie al vyf geslagte lank boer en drie geslagte lank wyn maak ... op ‘n klein skaal.

Hoewel daar baie hektaar onder wingerd is en baie tonnemaat druiwe aan groot kelders gelewer word, word net ‘n klein hoeveelheid gebruik om wyn onder die Wonderfontein-, The Marais Family-, La Bonne Vigne- en Campanile-handelsmerke te maak, en dit wissel van gewone wyn tot muskadel en brandewyn. Henk van Niekerk, bestuurder en skoonseun van Paul Marais, die eienaar, het ons in die proekamer te woord gestaan en hy kan gekontak word by 023-626-2212 of henk@wonderfonteinestate.co.za.

 

Links: Vir iemand wat geen formele opleiding het nie, maak Gideon van Zyl darem alte lekker wyn op Buitehof!

 

 

 

 

‘n Entjie verder af in die pad wag Buitehof op jou. Hier is Gideon van Zyl (082 312 8479) die derde geslag Van Zyl om sy brood in die aansien van sy sweet te verdien. Hy boer saam met sy pa en hulle het sowat 100 hektaar onder wingerd. Hoewel die meeste druiwe aan groot kelders gelewer word, maak hy so stil-stil en heel op sy eie ‘n paar lekker wyne, so op die regte, egte garagiste-manier.

Hoewel hy geen formele opleiding in wynmaak het nie, het hy sy ore goed uitgeleen, onder andere aan Jacques Conradie van Karusa. Al vier die wyne wat ek hier geproe het, het indruk gemaak, van die 2010- Sauvignon Blanc tot die 2007- Shiraz en 2006- en 2007- Cabernet Sauvignon. Om die waarheid te sê, Amerikaanse vriende het ‘n week later ‘n bottel van daai 2006- cab omtrent verslind! En hulle is nogal baie vol fiemies.

Ons derde besoek was by Tanagra Private Cellar (023-625-1780 / anette@tanagra-wines.co.za) waar ons ook sommer die naweek in ‘n gerieflike kothuisie met sy eie swembad sou deurbring. ‘n Duitse paartjie, Robert en Anette Rosenbach, het so ‘n jaar of wat gelede hier kom nes skop nadat hy moeg geraak het vir sakekonsultant speel in sy vaderland en sy, ‘n akademikus, besluit het om die taalkunde vaarwel te roep. Nou het hulle druiwe en appelkose wat hulle aandag verg, terwyl hulle ook gerieflike selfsorgverblyf aanbied, asook bed en ontbyt.

John Hargreaves, ‘n bekende, plaaslike garagiste-wynmaker, help Robert met die maak van Tanagra se wyne, grappa en eau de vie. Heelwat van die bestaande wyne is oorgeneem van die vorige eienaars en Robert en Anette beplan om die reeks baie te rasionaliseer.

Die 2010- Tanagra Rosé, gemaak van cabernet franc-druiwe, is Robert se eerste oesjaar op hierdie gasteplaas, en as dit ‘n aanduiding is van die gehalte wat hier gelewer word, gaan Tanagra nog baie bekend word. Onder die ander wyne wat my smaakkliere beindruk het, was die John’s Medley 2007 (merlot/cabernet franc), Felicity 2003 (cabernet sauvignon/merlot/cabernet franc) en die 2006- Heavenly Chaos (merlot/cabernet sauvignon).

 

Regs: Die gawe Valinda Oosthuizen het my omtrent die hele wynreeks van McGregor-kelder laat proe. My tong sal nog lank daai colombar en cab reserve onthou.

 

 

Voordat ons egter kon ontspan en uitvind wat anders McGregor aanbied, moes ons darem eers by die grootste kelder in die vallei stop. Die McGregor-kelder (023-625-1109 / info@mcgregorwinery.co.za) het 35 produsente wat ook die hoof-aandeelhouers in die McGregor Wine Company is.

Die baie gawe Valinda Oosthuizen het ons tien van McGregor se lekker wyne laat proe, maar dis veral hul 2010- Colombar wat my lus gemaak het om langer te kuier. En teen slegs R25 is hierdie heelwaarskynlik een van die beste waarde-vir-geld-wyne wat ek in ‘n lang tyd geproe het. Nie dat hul Chardonnay, Sauvignon Blanc, Chenin Blanc en Pinotage Rosé, almal van die 2010-oesjaar, enigsins vir die Colombar hoef terug te staan wat waarde vir geld betref nie. Onder hul lekker rooiwyne het veral die Cabernet Sauvignon Reserve 2008 beindruk.

Met die wynproeë agter die rug, was dit tyd om die dorp en sy omgewing te verken. So het ons oor die naweek by Eseltjiesrus buite die dorp gaan kuier waar ou, verwaarloosde en mishandelde donkies ‘n veilige en liefdevole tuiste gebied word, ons het die dorp se kunsroete gepak en selfs geld geblaas by Millstone Pottery (023-625-1599 / millstone@breede.co.za) waar Paul de Jongh en Nina Shand ‘n verskeidenheid fantastiese pottebakkersware maak en te koop aanbied.

Ons het die Vrydagaand by Cafe Tebaldi’s gaan eet en die volgende aand by Karoux, en vir die res van die tyd het ons ontspan in die rustige atmosfeer van McGregor en ons batterye herlaai.

Honda se Accord Tourer 2.2i DTEC Executive wys hoe ‘n stasiewa moet wees

Ek onthou stasiewaens uit my motorskryfdae as sulke oninspirerende, regop bokse op wiele wat bestuur is deur omies met boeppense en in kortbroek-safaripakke en Grasshopper-skoene. Die anties het sulke wit hoëhakskoentjies, crimplene-rokkies en blommehoedens gedra, en hulle hare was altyd geterg sodat dit soos voëlneste gelyk het! Niemand met styl het ‘n stasiewa gery nie!

Die Accord Tourer breek egter al daai “reëls”. Hy’s laag, slank en elegant – ‘n jintelman teenoor toeka se dae se kaalvoet-plaasseun! ‘n Jintelman met spykerskoene!

En hy’s belaai met alles wat die pad plesierig maak, soos sondak, parkeersensors (wat histeries geraak het in my smal oprit!), outomatiese hoofligte en outomatiese ruitveërs, maar ek wil  my eerder toespits op dit wat die Accord Tourer die beste doen – toer! Met 110 kW en ‘n lekker stewige 350 N.m uit daai viersilinder-dieselenjin van 2,2 liter, ‘n vyfgang- outomatiese ratkas wat die krag moeiteloos na die wiele oordra en ‘n ruim en gerieflike kajuit sal jy enige pad enige tyd kaf draf. En as jy bietjie jukkerig raak, dan begin jy daai flappies agter die stuur te klap soos ‘n wafferse Sebastian Vettel!

Hondas was nog nooit goedkoop nie en die Accord Tourer stel nie teleur nie. Hy gaan jou sowat R413 000 uit die sak jaag, maar as jy dit kan bekostig, sal jy nooit spyt wees nie.

Stasiewaens (oukei, dis seker nie ‘n baie “cool” beskrywing nie!) het beslis ‘n metamorfose ondergaan sedert die dae sowat 30 jaar gelede toe ek oor moutirkarre geskryf het. Toe sou jy my nie dood in een gesien het nie, maar Honda se Accord Tourer het dit alles verander!      

einde