Teubes Family Wines open nuwe, moderne kelder by Vredendal

Teubes Family Wines se nuwe, moderne kelder buite Vredendal.

‘n Aanwins vir die streek! ‘n Nuwe maatstaf vir gehalte! Goeie en eenvoudige gesinswaardes wat na die wyne deurgevoer word!

 

Dit was sommige van die beskrywings van wynmense, vriende en familie op die amptelike opening van Teubes Family Wines se splinternuwe en spoggerige kelder net buite Vredendal. Dit is ook die jongste toevoeging tot die gewilde Weskus-wynroete.

 

Die nuwe kelder, wat verlede jaar sy eerste wyn gelewer het, sluit ook ‘n ruim proelokaal met ‘n antieke, Frans-geïnspireerde dekor en voorkoms in waar kaasborde met olywe saam met die wyne geniet kan word. ‘n Ewe ruim stoep lok wynliefhebbers uit om daar te ontspan, terwyl dit ook ideaal is vir funksies.

 

Links: Teubes Family Wines se Malkopbaai Sauvignon Blanc 2011 het reeds die tonge los!

 

Die eerste wyn wat in die nuwe kelder gemaak is, is ‘n sauvignon blanc van die 2011-oesjaar onder die Malkopbaai-handelsmerk. Ander wyne wat hier geproe kan word, verskyn onder die Sir Lambert-etiket waarby die Teubes-familie ook betrokke is.

 

Die nuwe kelder verwerk 200 ton druiwe en Sybrand Teubes, die derde geslag Teubes op Houmoed, het ‘n eenvoudige wynmaakfilosofie. “Ons maak wyne van goeie gehalte en in klein volumes om ons handelsmerk te bevorder.  Daar word ook gekyk na groter volumes in die toekoms, maar gehalte sal ons nooit ooit inboet nie. Verder poog ons om op ‘n volhoubare, etiese en omgewingsvriendelike wyse wyn te maak.”

 

Sybrand glo ook sterk dat gehalte jou nie ‘n ledemaat hoef te kos nie. “Ons streef ook om wynliefhebbers van gehaltewyne te voorsien wat terselfdertyd goeie waarde vir geld bied. Daardie twee beginsels is beslis nie onversoenbaar nie en ons Malkopbaai Sauvignon Blanc 2011 getuig daarvan.”

 

‘n Rooiwyn onder die Malkopbaai-handelsmerk sal later vanjaar bekend gestel word, maar volgens Johan Teubes, Sybrand se pa, sal daar in die toekoms ook wyne onder die Teubes Wines-handelsmerk bemark word.

 

Teubes Family Wines maak deel uit van Houmoed-plase wat uit verskillende afdelings bestaan, naamlik korente, wyndruiwe, marktamaties en skape.

 

Regs: Die drie geslagte Teubes van Houmoed. Hoe moed, maar hou hulle ook dop want hier kom 'n ding!

 

Die Teubes-storie dateer egter verder terug as 2011 en sluit drie geslagte in. Johan se ouers, Sybrand en Hannah Teubes, het in die vroeë vyftigerjare van die vorige eeu die plaas Houmoed aangeskaf en met tamaties en druiwe begin boer. Toe Johan by hom aangesluit het, was sy klem ook op tamaties.

 

Die sukses met die tamatieboerdery het Johan in staat gestel om uiteindelik ook groter aandag aan druiwe te begin gee. Tot in daardie stadium is sy wyne by ander kelders gemaak. Sybrand jnr. is tans op die plaas en in beheer van die wynmaakafdeling.

 

Houmoed-plase lewer al sedert 1996 rooi druiwe van gehalte aan verskillende kelders in die Boland. Die rooi kultivars bestaan tans uit pinotage, shiraz, cabernet savignon, cabernet franc, merlot en ruby cabernet, terwyl die wittes sauvignon blanc, chardonnay, viognier, colombar en chenin blanc is.

 

Teubes Family Wines se toekoms is ook in veilige hande aangesien Johan en Ella se twee kinders, Sybrand en Isabel, se belangstelling ook in wyn is en hulle eendag die fakkel by hul pa sal oorneem. Sybrand is reeds betrokke by die familie-onderneming en het, benewens ‘n bemarkingsagtergrond, reeds ondervinding van wynmaak plaaslik en in Europa opgedoen, terwyl Isabel tans in die wingerdbou en wynkunde studeer.

 

Vir meer inligting of enige navrae, skakel 027-213-2377 of stuur ‘n epos aan ella@teubeswines.co.za.

 

Einde