Ek het ‘n wonderlike vrou. Sy’t uitmuntende smaak (Dit, vertel ek myself, is hoekom sy my gekies het!) en hou van dinge in styl doen. Sy’t al saam met my in die Sederberge gaan kamp, maar ek weet sy’t die weelde van Bushman’s Kloof, ook in die Sederberge, baie meer as die gekampery geniet! Want sien, sy’s ‘n vyfsterdame.
Toe ons dus uitgenooi word om ‘n naweek op Spier (021-809-1100) daar naby Stellenbosch deur te bring, het sy onmiddellik begin pak. Ek het maar bra langtand aan die uitnodiging geproe want my persepsie van Spier was van ‘n plek waar toeriste jou vertrap, jy deur jou nek vir alles betaal en ‘n halfdooie jagluiperd in ‘n kampie en ‘n aasvoël sonder stertvere in ‘n hok jou “back to nature”-ondervinding gaan wees.
Maar Nissan het my ‘n Quashqai dCi geleen omdat ek in die mark is vir so-iets en dié het my só beïndruk dat ek elke geleentheid aangegryp het om agter sy stuur in te gly. En so vat ek en my mooi meisie een Saterdagoggend die pad na Spier.
Daar aangekom, val die vriendelike en behulpsame personeel ons onmiddellik op. En so was dit deurgaans oor die naweek. Uitstekende diens van die vriendelikste mense wat ek in ‘n lang tyd raak geloop het. Dit was opvallend en het die hele ervaring net soveel aangenamer gemaak.
Die tweede ding wat my opgeval het, was ondanks die feit dat daar baie voertuie in die verskillende parkeerterreine gestaan het, ons nooit gevoel het of ons vertrap word nie danksy die groot area wat gedek word en die uitleg daarvan.
Nadat ons ons bagasie in die ruim en gerieflike suite afgelaai het, het ons gaan “aanmeld” vir ‘n wynproe by die wynproesentrum (021-809-1902/809-1100).
Spier bied ‘n groot verskeidenheid wyne om uit te kies, vanaf die intreevlak- Spier Discover-reeks tot by die Spier Private Collection-reeks. Ek het ‘n paar voorbeelde van al vier wynreekse geproe en met ‘n paar kissies weggeloop al wonderende waar ek hulle in my ou beskeie keldertjie gaan inpas. Maar lekker bly maar lekker, en ek kan versoeking mos nie weerstaan nie.
Na die geproe, is ek en vroulief na die delikatessen (021-809-1983/809-1100) om elk ‘n piekniekmandjie te kry. Myne is vergesel van ‘n wyntjie en vroulief s’n van ‘n koeldrankie. Ag “shame”, sy weet ook nie wat sy mis nie!
Toe het ons aan ‘n tafel in die skadu van ‘n boom en omring deur ‘n grasgroen grasperk gaan sit, sonder enigiemand naby ons, en die heerlike en vullende mandjies verslind. Dit is beslis die moeite en koste werd!
Nou-ja, na daai puik wyn en watertandpiekniek is ons twee toe vort na waar die “back to nature”-ervaring op ons gewag het, verby ‘n groot dam met allerlei ganse en eende wat die rustige plaasatmosfeer herbevestig. Net ienkys mens vergeet!
Kyk, as ek al ooit verkeerd was met my persepsies, dan was dit nou hier die geval! Die Wildlife Outreach, wat die Cheetah Outreach en die Eagle Encounters insluit, is werklik iets om te ervaar. Hier gaan dit nie oor wilde diere “skou” nie. En dis ook die ‘n dieretuin nie. Nee, hier gaan dit oor natuurbewaring en die rehabilitasie van wilde diere. En die mense betrokke is duidelik passievol oor wat hulle doen. Net jammer daar’s so min van hulle.
Nadat ons heelwat van vier verskillende soorte roofvoëls gesien en geleer het, is ons na waar die jagluiperds aangehou word. Hier het die Spier-ervaring vir sowel vroulief as myself ‘n hoogtepunt bereik met ons besoek aan ‘n kamp met welpies en later ‘n kamp met ‘n pragtige wyfie. Daar is ook ‘n opvoedkundesentrum met ‘n paar verrassings!
Daai aand het ons twee verliefdes ‘n romantiese ervaring by die Moyo-restaurant (021-809-1133/809-1190) gehad, gevolg deur ‘n heerlike nagrus en ‘n stewige ontbyt in die hotel self voordat ons die pad huistoe gevat het.
Net so van die os op die jas, die vierster-hotel het 155 kamers en lê langs die Eersterivier met panoramiese uitsigte op golwende wingerde en die Helderberge. Daar is veel meer om te doen en ervaar as wat ons kort besoek ons toegelaat het, wat beteken ons sal maar net weer moet gaan!
En so met die terugry besef ek toe weer eens hoe persepsie werk. Dis nou wel elkeen se sogenaamde siening van die “werklikheid”, maar mens moet jou persepsie gereeld aan die werklike werklikheid meet sodat jy nie in onkunde voortploeter nie. Te dikwels is ons persepsies verkeerd. Soos myne was oor Spier.
WEN! WEN! WEN!
‘n Gelukkige paartjie kan ‘n nag se verblyf in die viersterhotel op Spier wen, ontbyt en aandete ingesluit, asook ‘n besoek aan die sentrum vir roofvoëls en jagluiperds. Antwoord net hierdie eenvoudige vragie: Wat word Spier se intree-wynreeks genoem? SMS (teen normale tariewe) jou volle name, spasie, spier, spasie, en die antwoord aan 076 802 5294. Die wenner sal telefonies in kennis gestel word en moet die pryse self afhaal of reël vir die afhaal daarvan. Inskrywings sluit om middernag eerskomende Vrydag.