Vandat ek kan onthou, hou ek nie van gas in koeldrank nie en roer of skud ek dit altyd uit voordat ek drink. En so het ek ook oor die jare nooit werklik ‘n liefde vir sjampanje, oftewel MCC-vonkelwyn, ontwikkel nie. Vir dieselfde rede. Gas.
Dis nou nie dat ek my neus vir vonkelwyn optrek nie. Glad nie. So nou en dan en vir die regte rede sal ek ‘n glasie geniet, maar dis nou nie asof ek bottels aanhou en vir geleenthede soek nie. Gee my maar eerder een van ons vele wyne om te geniet en te waardeer, en dis nou in al die ander vorms – rooi, wit, rosé, port, muskadel, sjerrie en brandewyn.