Een Sondagoggend net na kerk besluit ek en vroulief om eerder te gaan uiteet as om self kos te maak. Maar waar? Ons hou nogal daarvan om op wynplase te gaan eet. Die hele ervaring is gewoonlik onvergeetlik, en omdat die Durbanville-wynvallei die naaste wynroete aan ons is, besluit ons toe om soontoe te ry.
Hier is ‘n hele paar restaurante, maar die Bloemendal-restaurant (021-975-7575) bo-op die koppie spog al geruime tyd met sy seekos en ons besluit om die bult op te ry soontoe. Die uitsigte van daar bo af is natuurlik asemrowend, en snags baie romanties, of dit nou oor Valsbaai, Tafelberg en Robbeneiland is of na die anderkant oor die noordelike voorstede.