Ek het die Suzuki Alto maar skepties gade geslaan toe die klein, wit stadsbuksie by my huis afgelewer is. Van voor het hy alte veel na ‘n insek gelyk wat iewers in ‘n wingerd hoort, maar toe ek hom eers uit alle hoeke onder oë neem, het hy beter en sagter op die oog begin val.
Na ‘n week agter sy stuur het ek weer eens besef hoe groot die gaping is tussen die klein karretjies wat ek sowat 30 jaar gelede as motorjoernalis getoetsbestuur het en vandag s’n. Die vlakke van afwerking, toerusting en sofistikasie is werklik verstommend en na ‘n week was ek so beïndruk met die buksie se algehele padgedrag dat ek hom maklik sal aanbeveel.