Net buite Kaapstad, maar steeds deel van die Kaapse Skiereiland, lê een van die Kaap se mooiste wyngebiede waar mens nie net puik wyn kan geniet nie, maar waar ‘n verskeidenheid eetplekke ook jou ander behoeftes kan bevredig. En hier’s lekker verblyf ook. En baie dinge om te doen. En alles is skaars 20 minute se ry van die Moederstad af.
Die Durbanville-wynvallei is nie groot nie en beskik oor net ‘n handvol wynprodusente, van klein boetiekwynmakers tot reuse-wynkelders, maar met bekende name soos De Grendel, Durbanville Hills, Nitida en Diemersdal is dit beslis ook een van die bekendste wynareas.